top of page
o-3.png
  • Writer's pictureClarina van ieperen

Die idee van die 'Vadersdag-pappa'


Junie 2023


Vandag het die Vadersdag-advertensies my bietjie gevang. Ek word gekonfronteer met die realiteit van alleen-ma-wees, al die advertensies het net vol-baard pa’s wat Super heroes kan wees, getooi in pajama’s saam hul skoongesig kleuters. En almal is natuurlik laggend… Ek wéét darem al het jy ‘n byna ‘super hero’ pa, lyk dit nie altyd so laggend of skoongesig nie, maar dit herinner my na dit waarna ek verlang. Dalk verlang ek na die idee dat as ‘n pappa deel was van die equation, dinge minder chaoties sou gaan…


En alhoewel ek herinner word aan my alleen-ma-wees, is die waarheid dat ek nie ‘Wees’ of ‘Alleen’ is in ma-wees nie al is party dae crazy. Want asof dit nie reeds oorweldigend genoeg kan wees om alleen tuis te wees met ‘n lewenslustige kleuter in die besigste tyd van my skoolkwartaal nie, het ek boonop die ma van ‘n kleine woef geword- waarvoor ek nié my hand opgesteek het nie!

Dis swaar dra om elke oggend jou eie skoolgoed, ’n kleuter en haar rugsak, ’n hond en dié se kos, kombers en kooi skool toe te piekel. Een oggend word jy dan nog wakker en Puppy en Hond senior is net missing -later veilig terug gevind- maar jy weet nie of iemand in die erf was, watter misterie het plaasgevind of watter detail jy miskyk dat dit dalk net ’n normale verloop van omstandighede was nie? Die idee waaroor ek droom is dat die Vadersdag-pappa sou seker maak als is gesluit en veilig voor slaaptyd, gaan kyk het wat skort met die honde wat blaf en sou help om te soek na hond 1 en 2 in die môre; die idee dat die Vadersdag-pappa sou help met die malle logistieke van kind en werk en buitemuurs en huistake. Ek dink bowenal hou ek ook vas aan die idee dat die Vadersdag-pappa my sou kon help om ‘Nee’ te sê vir iets waarvoor ek nie my hand opgesteek het nie…


Daar’s net dae wat gevul is met drama en worstelinge en besig-wees. Dis nie lekker om by die huis te kom en daar’s net niemand nie. Niemand om net te luister en vir wie jy kan luister nie. Niemand om net by te wéés, nie. ‘n Maat en kameraad… En ek troos myself in dieselfde asem ook, gelukkig is ek vir nou net een week alleen by die huis, volgende week is die res van die gesin weer terug en dan sal oupa en ‘n parate boetie weer dubbeld seker maak oor al die slotte en ouma sal weer na my gesanik luister en haar hospitaalstories sal vir my ook weer afleiding wees. Die Here sorg tóg vir lafenis!


My ervaring is emosioneel van aard, en my brein wil die wetenskaplike metode volg om die aard te ontleed. Een van my hipoteses is dat die halveerde dosis Serdep bydra tot die uiters emosionele ervaring van alledaagse gebeure.

Neewat, dié ene fast forward ek vorentoe in die proses om herskryf te word… Dit is nie nét alledaagse gebeure nie, boonop ís dit ‘n emosioneel-weerbare tyd. Dit mag waar wees dat die halveerde dosis Serdep bydra tot die intensifisering van die ervaring, maar dit lewer net ‘n bydra, dis nie ‘n oorsaak nie. Ander bydraende faktore tot die emosionele ervaring is die oortuiging in my hart dat daar groot geestelike skuiwe in my binneste plaasvind, ‘n aanblaas van die ‘embers’ en daar is die konfrontasie met ‘n geestelike atmosfeer wat ‘shame’ projekteer.


Vir ‘n lang ruk het ek woede ervaar waneer ek konfronteer word met daardie ‘shame’, maar vir eens het ek dit nou geween. Ek het by die huis gekom en gelê en tjank daaroor in my donker kamer langs ‘n slapende kleuter tydens loadshedding. Ek is die vraag gestel: “Watter blokkasie is daar in jou gees” , dit my heeltemal oorspoel. Hierdie gevoel van ‘shame’ is die blokkasie in my gees. Dis so in-my-face, en ek besef daar is steeds wonde wat nie heeltemal genees is nie. Woorde van iemand wat in ‘n gesprek sê dat iemand wat selfmoord pleeg, sy enkelrit-kaartjie na die hel geboek het. Of iemand wat in ‘n preek impliseer dat sekere slegte goed nie met gelowiges gebeur wat geesvervuld is en attent is op Sy Stem nie. Ek wou in daai oomblik in ‘n moment van selfregverdiging en woede uitskree: Wat moes ek nog gedoen het? Wat moes Job nog gedoen het? Wat moes Leendert nog gedoen het? Een ding is seker, ons is sondig en ons verdien baie slegte dinge, maar wat ‘n genade dat ons nie die volle toorn en gevolge van ons sondes hoef te beleef nie. Ons is sondig, ek en Leendert het gebid, ek het hom gesalf, daar is oorlogvoering gedoen in gebed, hy’t gesmeek, hy’t gehuil en gebid.


And shit happened.

En wat nou?


Wat is jou een-dimensionele gevolgtrekking oor my geloof?

En wat is die gevolgtrekking oor Leendert se geloof?


Die lewe is meer kompleks as ‘n een-dimensionele gevolgtrekking! Mental health is meer kompleks as om net vir iemand te sê ‘Los jou pille in Jesus Naam.’ of ‘Ken jou outoriteit in Christus en eis jou grondgebied terug sodat die duiwel nie kan steel nie.’

Daar is ‘n dieper teologiese Waarheid wat moet posvat as ons onmiddelike begeerte wat vry van lyding wil wees! Ken jou identiteit as ‘n Kind van die Allerhoogste Koning! Hierdie wete gaan definitief, sonder twyfel ‘n hele paar dinge in jou gees en jou geestelike gesondheid regskuif, MAAR hierdie identiteit as Kind van God beteken ook dat geen diepte of donkerte van emosies of trauma of gevolge van ander se sonde, of demoniese magte jou ooit van die liefde van Christus Jesus kan skei nie. Selfs al kan jy nie die Here se liefde begryp nie, al kan jy nie Sy genade begryp wat groter, dieper en meer konstant is as ons strewe om onsself uitsorteer te kry nie- dit verander niks aan die DNA van Sy Liefde nie. Jy het nie uit die Here se hand geval net omdat dinge nie Kumbaja is nie, die wolf en die lam wei nog nie saam nie!

Lyding ontbloot jou teologie!

Dit het myne bloot gelê, dit het die wortels wat my boom staande hou blootgelê- prys die Here daarvoor, maar ook die minder-mooi dele van my geloofsisteem.

Ek het daardie shame geween. En die ding van shame is, dit maak ‘n aantuiging teen wie ek is en dis ‘n aaklike emosie. Alhoewel ek die Waarheid ken, het dit my steeds oorval. En terwyl ek dit voel, vra ek myself af oor die balke in my oog waarvoor ek blind is… Waar kon ek meer gedoen het- want ek kon meer gedoen het. Maar ek het nie. Ander mense het nie. Ons doen steeds nie. En soms is dit nie ons plek nie, want ons is nie God nie. Hy is in beheer en Hy het die laaste en die finale sê. Hy het ook die finale sê oor die minder lekker hoofstukke van my lewe… Maar juis dit gee my troos - Hy het die finale sê en my storie is nie klaar totdat Hy dit bepaal nie!


En omdat Hy dit skryf weet ek Hy is met my in hierdie seisoen ook, besig om onverstaanbare dinge te skryf en tot stand te bring in my hart.

En ek wens nie die seisoen om nie.

Daar is soveel mooi, daar is soveel spesiaal, daar is soveel seer, soveel hunkering en frustrasie in die seisoen.

Maar ek weet ook ’n volgende seisoen met ’n maat gaan sy eie stel mooi, spesiaal, seer, hunkering en frustrasie hê.

Dalk gaan ek nogsteeds hunker na die ‘Vadersdag-pappa’-idee.

Maar is dit nie maar soos dit hoort nie, ‘n hunkering na iets of Iemand wat perfek is, wat ons diepste wese ken en wie laggende skoongesig kleuters omhels? Sou ons nie dalk aan die klug van die huidige aarde bly vaskleef het sonder daardie hunkering na iets beters en mooiers nie?

Openbaring 21:4
"En God sal alle trane van hulle oë afvee, en die dood sal daar nie meer wees nie, geen rou of hartseer of pyn sal daar meer wees nie, want die vorige dinge het verbygegaan."

Die probleem is as ons Hoop op die verkeerde bestel gebou word, en nie op ‘n Ewigheidsperspektief nie. Die probleem is as ek my hoop plaas op die idee dat ‘iemand’ die antwoord is, waar ek alreeds die Antwoord ken- die enigste een wat my Vrede kan gee, midde die choas om my en die belofte van die Plek waar ons gaan een-wees in die afwesigheid van al die vorige dinge wat verbygaan het.


En tog vir die nou voel ek, ek het die Heilige Gees Trooster in vlees en bloed nodig en dis ook oraait. Ek het nie ‘n wetenskaplike-metodiese hipotese, en uiteindelike gevolgtrekking nodig vir die voel van daardie emosie of die validity therof nie…

Ek voel die emosies en weet die Waarheid is groter as my emosie.

Sy Waarheid vertroos dieper as my een-dimensionele ervaring…

En ek hoef nie vas te hou aan ‘n Vadersdag-advertensie idee nie…


Isaiah 54: 4

“Do not fear, for you will not be put to shame, and do not feel humiliated or ashamed, for you will not be disgraced.

For you will forget the shame of your youth, and you will no longer remember the disgrace of your widowhood.

For your husband is your Maker, the Lord of hosts is His name; and your Redeemer is the Holy One of Israel, who is called the God of the whole earth.

For the Lord has called you, like a wife who has been abandoned, grieved in spirit,

And like a wife married in her youth when she is later rejected and scorned,”






Recent Posts

See All

Comments


bottom of page