top of page
o-3.png
  • Writer's pictureClarina van ieperen

Die plaasvervanger

Dis net hier waar die reuk van stof en die die andersins-irriterende piepgeluid van die handradio so ‘n spesifieke positiewe emosie kan ontlok.

Ek sit op die plaas.

Dit is salig en ek verkeer in ’n gedagte-tydvakuum.

Daars dinge wat ek moet doen en ek doen nie veel nie, ek slaap, ek sit saam Smirna onder die boom en vat stappies saam die res. Ek is so bewus van oomblikke saam haar, oomblikke met ouma en oupa aan tafel en in die kamer, saam die niggies en nefies by die vuur, oppad kraal toe en in die rooigrond met ’n pomelo of lemoen en mes in die hand.




'n Plaaskuier bly ’n merker in mens se psige. Dit is soos om 'n tydkapsule binne te stap, waar alles presies dieselfde voel as die afgelope 20-jaar, en tog ook nie is nie. Die yskas het laer geword, die bad is vlakker en ouma en oupa het ouer geword. Dieselfde banke staan steeds op dieselfde plek, ons aanvaar nou maar die stof-probleem as deel van die ervaring en daar is steeds dieselfde tydsbestuur-situasie rondom aandetes en dit realiseer steeds nie vroeër as agt-uur nie. Oupa drink nogsteeds sy mampoertjie elke aand, en ouma raak nog elke keer knorrig as die mampoer beginne praat. Soms sing ons nog na aandete en ouma bid vir ons almal en dit bly 'n gesellige maratonkuier.


Drie oggende ‘n week word jy uit jou vakansieslaap geruk met die ‘Veiligheidstoetsradio’ en party aande word jou slaap nog verder onderbreek met die gelag van hiënas of die geroep van die jakkalse.

Hier is nou deesdae sonkrag, en deur die jare is die badkamerstelsel opgradeer van ’n donkie wat gestook moes word na ’n songeyser en uiteindelik nou na gas. Na 50-jaar se kerm en vra, is daar uiteindelik ’n plafon in die ou deel van die huis geïnstalleer. Ek moet sê, dit is warmer en meer klankdig, maar die sinkdak op kaal houtbalke met die geitjies wat teen die muur ophardloop het ’n eietydse atmosfeer geskep. Ek onthou saamsing tye, Sondae-middae met die terugkomslag van ‘Draaitjie ry’, agter-op die bakkie saam al die tannies en met ouma se Stellenbosch-koor staaltjies en ek onthou ook die alewige oorpyn daarna. Ek onthou daai een keer toe mamma en pappa middernagelik met my die pad moes aandurf na ’n dokter toe, ek onthou daai pienk medisyne en die huil in die badkamer. Dit was genadiglik 25-jaar gelede, toe daar nog ’n teerpad was en jy nie ’n 4x4 nodig had nie.


Ek dink ook terug aan die verskillende generasies plaashonde. Hulle het nou vir Jockie, oupa se Covid Jack Russel en Lady, ’n Steekhaar-something. Voor dié twee was dit Wagter die Skaaphond en Knerses die Staffie. Wagter het vir Boesman vervang. My herinnering van Patrys is iewers as ’n trauma-basseerde herinnering gestoor, sy was iets soos ’n boerboel-rifrug mengsel en sy was verskeur-kwaai. Arme Lasarus was aan die hakskeen gegryp regdeur sy werkskoen se leerhak. Sy het toe permanent in die Luiperd-hok geslaap wanneer ons op die plaas is. ‘n Hele paar van die honde is afgestaan aan slangbyte, shame, en een van hulle aan ‘n karwiel.


Op die plaas is jy eweskielik nou groot as jy die Kopertoon-kas mag oopmaak en met ’n sakrekenaar kan werk. Ek weet nou nog nie wat die Kopertoon is nie, maar dit was iets scary soos die Hus, en die Kopertoon het daar langs die messelaai gebly waar die swaar potte ook gebêre was. Sakrekenaars en enige ander battery-aangedrewe knoppiemasjien was geoorloof vir volwasse vingers. Ons het nie op die plaas somme gedoen nie, ’n sakrekenaar was net ’n lekker snaaksigheid vir kleine agies. Hekke-oopmaak was jou takie vanaf die dag dat jy kon loop en self van die bakkie afklim en baklei met ieder nefie en boetie hoekom hulle dit eerder moet doen. Beskuitbak saam ouma, lemonade bottel en groente skil was ook spesiale tyd saam ouma in die kombuis. Hier het ons ook geleer van maroelas eet, slap maroelajellie op plaasbrood en ingelegde maroelas vir nagereg. Een van oupa se treffers is kremetartpap, dis nou as jy die kremetart soos ‘n maraka op die grond slaan en oopbreek en dan tussen al die haartjies, die kluite kremetartmeel van die pitte af suig of dit meng met melk en eet as pap. Ella maak nogsteeds die beste este Ella-pap en dit is nie regtig stywe pap nie, maar ook nie soos my ‘Jaagpap’ nie. Oupa noem krummelpap jaagpap, want hy moet die pap op sy bord met sy lepel rondjaag om enigsins iets geëet te kry. (Daar’s nie ‘n Chinese takeaway in ‘n radius van 400km nie, want oupa sou glad nie dink die idee van rys en bamboesstokkies is ‘n doenbare kombinasie nie!)



Dis nou al amper twee dekades dat ouma-hulle nie meer ‘n misvloer agter by die kombuis het nie, dit was nou wel ‘n stinkspul toe dit gedoen is, maar na die droogword-tyd is dit ‘n allerlekker speelplek en so glad! En daar by die misvloer het ons altyd na die voëlnessies gekyk, wat ‘n wonder dat na al die jare, die voëltjies steeds verkies om hulle nessies te kom bou voor die wasbakvenster waar mens jou kan verstaar aan hulle ingenieursvermoë en mooiste vere-kleure!


Vele vriende wat eens saamgekom het plaas toe, het vir ouma en oupa ook as eie aangeneem, oom Karl kom kuier jaarliks nog op die plaas uit Nieuw-Zeeland, en Shaun het ’n ad hoc familielid geword met ’n outomatiese plekkie op troues se gastelys, selfs al sien ons mekaar slegs by die troues!


As tiener het ek die plaasvakansies altyd met heimwee beleef, heimwee na iets wat in die toekoms sou gebeur. Ons het gedroom van ’n tyd wanneer die sterrekyk-sessies nie net ons niggies op die trok is nie, maar dat dit ’n romantiese aangeleentheid sou wees. Leendert was twee keer saam met my op die plaas en twee keer was dit my voorreg om ’n romantiese sterrekyk-aand te kon hê. Ek onthou hoe daardie plaasvakansie ’n gebedsaak was, en die manier hoe die Here voorsien het sodat ons die plaas saam kon beleef. Ek onthou die gesprekke met oupa oor geloof en ouma se huweliksraad… Net na ons eerste plaaskuier het ons albei Covid opgedoen. Oppad terug van die tweede kuier het ons in Vanderkloof gestop en die werk aanvaar en kort daarna uit die Kaap getrek.

En nou is dit die eerste plaaskuier sonder Leendert en die eerste een saam met Smirna.

En nou is ons ook ’n volgende generasie, hier kuier nou sewe kleinkinders en twee agterkleinkinders saam. Waar dit gewoonlik ons ma’s aan tafel was saam ouma-hulle, is dit nou ons, en dis ons kinders by die klein tafeltjie.

Dis ons veilige plekkie as Nel-kinders. Ek het al in 7 dorpe en 14 huise gebly en deur 28-jaar is ouma en oupa op die plaas De Hoek die konstante. Die nalatenskap wat ons nou het, is 'n besondere band tussen ons kleinkinders, waar ons vir mekaar en ons ouers kan bid te midde van hul middeljare-krisis en keerpunte.


Die plaas is ‘n plek sonder pretensie. Wanneer jy instap kan jy sien as iets verander het, as daar ‘n nuwe tafeldoek is of as ‘n tannie kom skoonmaak het en vuur gemaak het met een van die stapel Landbouweekblaaie in ‘n kamer…Die plaas is nie meer heeltemal dieselfde nie, ek is ook nie meer dieselfde nie. Die plaas herinner jou, soms moet jy jouself net herposisioneer, die spens uitgooi en twee dekades se opgegaarde Kerk-almanakke as firestarters gebruik om plek te maak vir iets vars - iets mooi - iets wat lewe gee.


Vir sekere dinge is daar net nie 'n plaasvervanger nie...




Recent Posts

See All

Comments


bottom of page