top of page
o-3.png
Writer's pictureClarina van ieperen

Die wonder van 'n middagslapie

Sy val op die bed neer en trek die kamerjas oor haar tone. Daar lê sy, sommer so bo-op die stapel kussings, so skuins oor die bed onder die oopgespreide kamerjas. Dinge soos dié is alleenlik geoorloof vir vinnige middagslapies met haar linkerbeen reguit ontspanne en die regterbeen halfmas opgetrek. Die een arm lê so ‘n bogie oor haar kop, bo-op die kussings en buite die kamerjas, half soos ‘n ballerina. Haar kop lê genestel in die bogie, redelik naby aan haar oksel. Die bedompige aroma, ‘n herinnering dat dit nou somer word en sy die sewentig kilometer afgelê het sonder lugverkoeling in die kar.


“Net vir tien minute,” belowe sy haarself, want sy weet daar is so baie goed wat gedoen moet word. “’n Middagslapie sal die fokus weer herstel,”oortuig sy haarself.


Dis nie stil in die kamer nie. Die voëltjies bou lentenessies buite haar venster en die huismense kyk ‘n ding op die TV met agtergrondmusiek wat heel gepas sou wees vir ‘n troue of een of ander derglike okkasie. Die kamerdeur is nie dig genoeg om die klanke buite te hou nie en haar vel ook nie. Dis nie dik genoeg om die klopping in die karotisarterie ongevoels verby te laat vloei nie en ook nie om woorde sonder‘n outopsie te begrawe nie. Tot haar bloeddruk raas in haar ore. Maar sy belowe haarself, dit gaan net tien minute wees.


Sy dink aan die gesprek om die etenstafel en sy dink aan die week wat voorlê. Haar linkerhand lê onder die kamerjas in die knak van haar pelvis. Die pinkievinger se senuwee spring en sy verwens daardie derde koppie koffie - die ene na middagete. Sy drink deesdae haar koffie sonder suiker. Dit sus haar gewete en dit maak die smaak van die koffie meer eg. Sy het vir die oom gesê sy drink net goeie koffie, sy gee nie om of dit wit of swart is nie, solank dit net nie sigorei in het nie. Vir 'n oomblik of twee het hy nie besef sy verwys net na haar koffievoorkeure nie. Op daardie oomblik het sy gedink daardie koppie koffie sou ‘n goeie idee wees voordat sy die lang rit terug huis toe moes aanpak.


Daar is vrouens wat gil en kinders wat huilend rondhardloop in die TV-storie en sy wonder hoekom mense na sulke goed kyk. Die regte lewe bied dan genoeg materiaal vir trane en vermaak.

Sy dink aan die Anatomie-toetse wat sy nog moet opstel en die nimmereindigende merkwerk. Sy wil eintlik hoes, maar sy is nie lus nie. Sy weet die hoes is eintlik maar net omdat iets haar keel krap. Hoes is ‘n reaksie, nie ‘n oplossing nie en sy stel net in oplossings belang. Die glas water is wél die oplossing, maar sy gaan mos net eers vir tien minute lê. Die hoesie kan maar wag; dit gaan nie nou water en aandag kry nie. Sy haal maar net stadig asem, want dit sal die hoes-impuls onderdruk en sommer haar pols ook laat bedaar. Drie vingers het senuweetrekkings. Sy besef haar arm gaan dood wees van die ballerina-bogie, maar dis later se bekommernis.


Haar oogreflekse verklap dat sy nog nie werklik slaap nie, alhoewel haar asemhaling nou meer egalig is. Dis nog steeds nie stil genoeg na haar sin nie. Gewoonlik pla die voëltjies haar nie, want dis lekker om hulle dop te hou terwyl die geelvinkmannetjie die nessie vleg en die vaal wyfietjie kom rondfladder vir nesinspeksie. Dis net dat haar behoefte vir stilte die nessie-bou-sentiment oorheers.

Haar kop ruk vir ‘n oomblik uit die bogie en sy sluk die bitterheid. Hierdie sooibrand is nou die gevolge van daardie bakkie roomys as nagereg. Die brand wel weer in haar keel op, maar sy sluk. Haar kop lê weer genestel in die ballerina-bogie en sy probeer fokus op haar asemhaling. Daar is honde wat oorverdowend blaf in die TV-storie en sy wonder wat van die gillende vroumense en huilende kinders geword het? Eintlik wil sy nie regtig weet nie.


Sy wonder nou of sy regtig daardie bakkie roomys moes geëet het. Vrydag kom nader; daar is nou nog net vyf slapies oor. Sy tel die slapies af. Ja, net soos kleintyd voor Kersfees. Sy dink aan die rok wat haar moet pas. Die skepping hang nou al vir twee jaar in haar kas en daardie middernagblou fluweelrok is haar moeder se handewerk. Dit was harde werk en fluweel is nie maklik onder die naald nie. So dis nou regtig hoog tyd.


Haar metgesel vir Vrydag is ‘n blind date. Dis nou wel ironies dat hy‘n veearts is en êrens uit die Transkei kom. Sy het nie te veel van ‘n sê in die proses gehad nie en sy was eintlik dankbaar. Sy was nie lus om alleen by die dans op te daag nie. Nie hierdie keer nie. Jy weet nooit of dit die laaste dans sal wees nie en mens wil darem lekker kan dans sonder om op ‘n dansmaat te wag. So meneer die veearts is ‘n vriend van ‘n vriend. Hy het alreeds ‘n kaartjie vir die dans gehad het en het net ‘n metgesel gesoek. Hy is nuut in die Boland, danksy die verpligte gemeenskapsjaar en sy waardeer vars geselskap. So saam sal hulle die tafelplasing maar ‘n ewe getal maak.


Sy onderdruk weer die hoesie. Dis net die keel wat krap. Hoeka seker van al die hondehare van die naweek se kuier. Sy dink steeds aan Vrydag en aan die moontlike gesprekke en al die opwinding wat voorlê. Hoe gaan sy aan hom verduidelik oor haar verhouding met die vierpotiges? Dit was kleintyd, en sy het haarself net een keer toegelaat om haar hart vir die foksterriër-brakkie oop te maak en dié is toe weg daarmee onderdeur die heining. Weg. Die honnekinders laat deesdae net haar keel krap. Sy is meer van ‘n katmens. Die bolletjies pels kom en gaan soos hulle lus het, maar kom krul net genoeg langs jou op dat jy tog onthou dat die tier in hulle gene bietjie getem is.


Sy dink aan die gesprek vroeër in die kar en sy konsentreer hard om haar polsslag konstant te hou. Sy besef sy is eintlik bietjie vies, nie kwaad-vies nie, net moeg-vies. Daardie viesgeid wat jy nooit sal kan verwoord nie. Sy het dit ook nie verwoord aan die tannie nie. Sy het net die stuurwiel vasgehou in stilte. Sy maak haar hart maar net glad en hard sodat die woorde van haar afrol en dat dit nie duike maak nie. Sy sal haar in die vervolg probeer doofhou, al het die tannie dit seker goed bedoel.

Sy moet maar net leer om die bemoediging tussen-in te hoor. Sy weier om die woorde te aanvaar dat sy nie ‘reg’ is vir ‘n verhouding nie. Wat is ‘reg’ in elk geval? Sy het al lank reeds haar bagasie afgelaai, sy het vergewe, baie dinge al vergeet en laat leef. Sy weier om weer in daardie gat te trap waar sy haarself probeer fix. Sy wil nie weer daardie gebede bid waarin sy vra dat die Here haar moet wys waar sy nog moet skaaf voordat sy geskik sal wees om haar pond ‘n ‘ons’ te maak nie. Sy weier.


Sy berus daarin.


Somstyds meer volkome as ander kere. Sy weet sy is nie betitteld tot vraagtekens nie. Tussen al die vraagtekens deur verwyt sy nie meer haarself dat sy vrae vra nie, want die tyd alleen sal leer. Dis al. Sy het geleer in dié tyd. Sy het al geleer dat liefde en vrees nie saam kan bestaan nie. Sy wéét dat liefde nie sal afbreek nie; al word dit soos liefde bedoel. Sy verlang sommer na haar eie ma se liefde. Daardie liefde het haar altyd beskerm, in die beste geglo en geen einde geken nie. Sy weet ook sy moet nou stil raak, want die tien minute is sekerlik al amper om. Haar tone kry koud en haar nekspier spring ook nou.


Die TV-storie blêr haar brein weer wakker. “Goeiste, kan die mense nie net die klank afdraai nie?” Selfs die lentevoëltjies het nou ‘n entjie weg gevlieg. Daar is ‘n man wat met een van die vrouens in die TV-storie praat. Hy praat spottend en sy aksent is swaar; dalk Oosters of elders uit Europa.

Die vrou begin met die Hebreeuse seën, harder as sy honende woorde. “May the Lord bless you and keep you…” Die huismense lag saam met die man op die storie, maar die vrou seën voort in ‘n nederige toon, “The Lord will make His face to shine upon you and be gracious to you.” Sy lê nogsteeds in haar ballerina-posisie. Daar is seker nie meer baie tyd oor om nog so te lê nie, maar sy prewel saam en die senuweetrekkings in haar vingers het bedaar. “The Lord lift his countenance upon you”. Dis nou ‘n onverwagse storie? Sy wonder watter kinkel het in die storielyn ingekruip?

“And He will give you peace.”

Die skielike stilte van die afgeskakelde TV word onderbreek deur haar foon se alarmdeuntjie.

Sy wonder nou oor die TV-storie.

Sy wonder oor die huismense en die rede vir die skielike stilte op die kassie, maar sy moet opstaan. Haar tien minute is om.

Sy berus oor die gesprekke van die dag. Haar ballerina-bogie-arm is doodgelê en koud, haar polsslag is nou weer ‘n geraas in haar ore, maar sy het vrede.


Die tien minute het wondere verrig, net soos sy haarself belowe het.


September 2017

 


Recent Posts

See All

Comments


bottom of page