top of page
o-3.png

Eendag se gemene dag

Writer's picture: Clarina van ieperenClarina van ieperen

Kyk daar vertel die Dertienjarige wysheid my mos van sy groot-wees diagnose toe hy groot-wees simptome op sosiale media raak lees.

"Toe ons klein was, was ons grootste hartseer, gebreekte speelgoed en nou is dit gebreekte harte. Toe ons klein was, was ons grootste soektog na ʼn verlore sokkie, noudat ons groot is, is ons opsoek na verlore drome." Kyk, daar is ek toe sommer ontnugter van my grootmense verwaandheid...

Ek het mos gedink ek begin net my skryfskribbels met "Eendag". Daardie 'Eendag lank lank gelede' stories of my droomstories oor eendag in die toekoms wanneer ek groot is... Ander stories loop in die groef van ʼn "een dag", iets oor ʼn spesifieke dag, ʼn dag van keerpunt of daardie dag van die beginpunt. Tog besef ek, ek begin nie net ʼn storie met eendag of by daardie een dag nie, maar so lewe ek soms vir daardie een dag of vir eendag of ek leef nog in daardie eendag lank lank gelede ...

My grootmens verwaandheid wou glo die japsnoet is nog pure kind. Alhoewel sy verlore sokkies nie meer sy grootste soeke is nie, is dit net omdat daar genoeg bygekoop is sodat ons dergelike soektogte kan elimineer. Daar is nou nie meer veel speelgoed wat gebreek kan word nie, die meeste is weg gegee of weggegooi en hy sien natuurlik nie sy selfoon in daardie kategorie nie en tog is my spesmaas baie sterk dat sy gebreekte selfoon op hierdie stadium meer van ʼn jongenskrises sal veroorsaak as ʼn gebreekte kys...

Ons Dertienjarige wysheid het homself gediagnoseer- hy's nou groot. Ek, met my belastingnommer, ʼn tweede IEC-stemstempel, twee gradeplegtigheid-toiletrolle en ʼn kredietkaart voel soms nie gereed vir die verantwoordelikheid wat saam die verantwoordbare ouderdom kom nie. Ek voel ook nie heeltemal 'kind' nie, my weegskaal vir die diagnose moet eers die "kind-wees" meet en te lig bevind voordat die wigpunt bereik word. Toe ek pure kind was, was my maatstaf vir groot-wees ʼn drie-punt lepellys. -Slaap by maatjies oor sonder dat ons ouers met mekaar moet reël. -Bestuur self ʼn kar. -Gaan alleen of net saam vriende op vakansie.

Nou is ek al deur die ʼn kardiefstal, ek het al stoksielalleen gevlieg na ʼn bestemming waar ek geen krioel of krulletjie kon lees of praat nie en ek lig iemand net in wanneer ek die ekstra huissleutel gaan gebruik om te kom kuier in my werksvakansie.

My groot-wees wigpunt is nou selfs verder geskuif as ʼn troupant op linkerhand se fielafooi... Dit is geskuif na die punt van ma-wees, al staan ek tans voor die wet in loco parentis. Die onderliggende denkwyse is dat die wonder van ʼn bondeltjie lewe my seker sal laat grootmens voel of iets...

Maar nou ja, tieners voel met goeie reg nie meer kind nie en ek het nie genoeg gebreekte harte of verlore drome om myself as ʼn grootmens te diagnoseer nie.

Nou basuin ek maar op sosiale media. Daar was een dag wat ek besef het... Soms voel ek kind, soms voel ek middeljarig Prediker-ontnugterd. Maar my eendag wat agtertoe leef en my eendag wat vorentoe wonder het op daardie draaipunt-dag besef: selfs my oupa met 80 jaar se leefervaring lééf die eerste keer hierdie dag in Maart 2019. Ek besef my "eendag" van groot wees en sy heimweevolle "eendag" het een dag in gemeen.


Ons eendag is VANDAG.


Maart 2019

Recent Posts

See All

Comments


o-3_edited.jpg

©2019 by Ompadgedagtes. Proudly created with Wix.com

bottom of page