top of page
o-3.png
  • Writer's pictureClarina van ieperen

Kalenderknopies | Februarie


Ek kan Rheinieco se geboortedag afmerk op 8 Februarie 2006, my bababoetie. Ek was graad 6, kannie veel meer as die ongelooflike bos blonde hare in vernix onthou nie. Dieselfde naweek in 2020 was dit my eerste en laaste vakansie saam ’n Alzheimer- tannie, ook die eerste en laaste keer toe hulle vir Leendert ontmoet het - in Hartenbos.

In 2021 was dit die tyd toe ons mediese bevestiging gekry het dat ons ’n dogtertjie verwag, nadat ons alreeds 3-maande vir haar, op haar naam bid.

In 2019 het ek ’n oproep gekry oor Ouma Kotie se opname in die hospitaal. Ek onthou die verplettering toe ek in daardie hospitaalkamer staan in my isolasie-pakkie. Ek was in ’n langafstand verhouding- ek het nie kapasiteit gehad nie. Ek het nie geweet hoe om al die emosies te verwerk nie, kan ek maar die foon optel en tjank? Ek het onthou dit was ’n Woensdag en dit was selgroep, ek wou hom nie steur nie. Ek het my beste vriendin gebel, wat ook by selgroep was. Ek het nie omgegee of ek háár pla nie? 

Die volgende Woensdag, die 13de was dit ’n graad-7 sokkie by die laerskool. Kleinboet kon nie gaan nie, ons was langs ouma se bed daardie aand toe sy hemel toe is. In soveel vrede - soveel seer in ons harte. Daardie Valentynsdag was my hart gebreek, amper soos met die Valentynsdag in graad-1, toe pa se rooi motorfiets uit die erf gesteel is. Ek onthou die laaste Valentynsdag as Mevrou Van ieperen in 2022, dit was 'n piekniek by die kerk op die 13de. Dit was spesiaal, dit was pret. Ek onthou die lekker lag en die verspottenheid. Daar was ’n paar pennies omgedraai om te kon gaan- ek sal hulle weer drie keer in die rondte spin! Ek onthou die laaste Dinsdagaand van waatlemoen en spanspek by tannie Engela-hulle. Ek onthou die aaklige gesinsfoto’s regdeur Februarie, asof hy elke tweede aand die laaste oomblikke saam ons wou vasvang. Hoe het die maand so vinnig die afgrond afgetuimel?

Ek onthou nog elke jaar my beste vriendin se verjaarsdag die 24ste. Dit was gewoonlik ’n teepartytjie in ’n oulike plekkie in Stellenbosch se skadustrate. Ons het haar kombuistee gehou op haar verjaarsdag- vier jaar terug, laasjaar haar babatee!

Ek onthou Adriaan se eerste verjaarsdag daardie Saterdag-oggend, ek was so oorweldig om daardie oggend alleen Smirna se babasak en als vir die dag reg te kry, omdat hy moes werk.

En ek onthou my laaste sonsak daardie aand as ’n ongekompliseerde familie. Ek onthou daai besonderse Saterdagaand-spookasem sonsak. Die volgende oggend kom die son toe op en dis net sy asem wat by my spook... En op dieselfde dag het ’n Steenekamp Junior sy eerste asemteug gegee. Laasjaar het ek in Rhodes se roostuin gedwaal met ’n Stoepsit-paspoort, ’n doring het my vinger geprik en ek het simpel Tsitsikammamamma gediggies gelees. Op die eenjaar merk het ek myself misgis en my skooldag kortgeknip met ’n oliepastel tekening wat ek later die aand kon groet in vlamme.


En toe is dit Februarie 2024...

Ek wil nie onthou nie, ek wil nie kalenderblaaie terugblaai nie, maar hier sit ek en ryg elke jaar se Februarie-kalenderknopies op ’n netjiese ry vas.

Hierdie jaar het ek die Nooi geword van ’n kind-hearted, braveheart man. I had a Valentine- by default, some would say- but he did not take that as a given.  Hy het my en Smirna kom haal vir aandete, ’n bos rooi rose vir my en ’n enkelroos vir die kleine dame.  Dit was spesiaal om die volgende aand, saam in die Here se teenwoordigheid te wees in worship. Die Here het my ook kom verras met ’n visie van twee bome se stamme wat Hy saamvleg, in Hom. 

Ek was ook al by ’n begrafnis die maand, die 16de. En vir die eerste keer in Februarie sit ek nie in die voorste ry in die kerk nie.  Ek sit in die tweede ry aan die sy van iemand wat rou. En ek hou sy hand vas en tog weet ek nie wat is die gevraagde rol om te vervul nie. Ek sien so baie van my jonger self: Die eerste keer wat jy iemand aan jou sy het terwyl jy in een van die voorste rye sit... Jy voel so weerbaar, daar’s soveel emosies, die beste voetjie is by die agterdeur uitgeskop. En tog kan ek ook sê, die morsige emosies is beter as die alternatief om dit alleen aan te pak.

Op daardie begrafnisdag gaan gee ek my CV in, ek is gereed vir nuwe moontlikhede. Ek is gereed om stories te herskryf. Ek herskryf daardie dag ook ’n vriendskapsnarratief... Ek gaan kuier by ’n vriendin, ons het mekaar die laaste keer by Leendert se begrafnis gesien. Die laaste keer toe ek by hulle aan huis was, was die week toe ek verloof geraak het. Hierdie is die vierde keer sedert daardie week in 2019 wat ek in dié dorp kom, en elke liewe keer het ek nog in dieselfde buurt gekuier, by drie verskillende huise. Daardie aand was ons drie ook aan huis van die oom wat daardie dag, die liefde van sy lewe- sy high school sweetheart, vir die laaste keer moes groet. Ek is herinner aan die emosies, die leegheid, the ‘I don’t know’-prayers wat mens prewel in ’n leë bed. Die mis van twee jaar se huwelik kan ek nie eers ekstrapoleer na 43-jaar se een-wees nie. Ek is herinner aan daardie waas; maar daar is ’n warm hand om my skouer wat my dankbaar maak dat ek al twee jaar verder geleef het... 

Derglike geleenthede het mos die manier om ’n geleentheid te word wanneer jy al die familie, vriende en ander belangrikes ontmoet wat jy heel moontlik eers weer op ’n troue gaan sien. So die volgende oggend is daar ’n piekniek. En ons drie is laaste oppad, want ons moet die koffiebestelling gaan kry. Die oomblik toe die kar se neus in daardie smal teerpaadjie indraai, is dit asof die video se buffer eweskielik load. It is all coming back to me, ek onthou die presiese gesprek in die kar die vorige keer toe ek myself op daardie pad bevind het.

Ek sê net: “Oh no, ek weet waarheen hierdie pad gaan...”

“Is jy oraait?”

“Wel, ons is nou hier oppad...”

Die kar stop in die parkering en ek kan nie meer dink aan my spreekbeurt in die huidige dialoog nie, ek dink aan dáárdie gesprek, en ek dink aan my polse wat spasties is omdat ek 6 koppies koffies vir die afgelope 15-minute in die lug balanseer. Ek is so in gedagte dat ek met daai 6 koppies koffies, die heer langs my voorspring en self die deur oopmaak en uitklim. Halfpad oor die houtbruggie, kon ek myself nie eers inhou nie en blaker net uit: “Op hierdie bruggie het ons verlowingsfoto’s geneem.”

Net oor die bruggie, sien ons vir Vriend tussen die duine aangestap kom. My oë staar net, kan dit wees? Die piekniek is soos 2 tree van die presiese plek af waar ek ’n vorige keer verloof geraak het. Toe Vriend heel opgewonde kom help koffie dra, het ek hulle albei gemaan, ons los hierdie brokkie inligting net hier!

Ons gaan die oggend saam almal geniet!

En ek het.

Dit het energie gevat, maar ek het die oggend geniet. Ek kon ten volle teenwoordig in die pret wees- my aptyt wel nie...


En later toe Smirna wou see toe stap, stap ek saam. En ek staan met my voete in die golwe,  met traanstrepe oor my wange en snikke uit my bors. Dis dié emosies wat ek moet voel, dié oomblik wat ek moet deur-lééf en die nuwe narratief wat ek moet ingraveer...


André kom afgestap en staan by my, en daardie breë skouers vertroos en hou vas. Dis verligtend, dit voel asof die golwe hierdie seer van verpletterde drome saam die gety teruggetrek het...


Februarie het nog ’n week, en ’n ekstra dag oor vir die jaar.  Ek is ook besig om met hierdie knopies ’n raampie te maak vir toekomstige herinneringe. Ek sal hard leef om stories te herskryf, om sirkels vol te maak en te volhard om te berus in die Groot Skrywer se hand oor my lewe.

Februarie is nog nie klaar nie...

Die Here is nog nie klaar nie...

Ek is vol verwagting dat die Here dit volsirkel sal herskryf, dat my knopie-raampie nuwe snapshots gaan vertoon.


Recent Posts

See All

Comentários


bottom of page