top of page
o-3.png
  • Writer's pictureClarina van ieperen

Rou agtergrond 1

Disclaimer: This is my own journey, overshadowed by grace. There may be similarities with your journey, there may be none, but I pray that you will see that His Grace is sufficient for you to live your journey without comparison.


Hierdie is die reis deur my rou emosies oor my man se dood…

Ek is ‘n Christen, alhoewel dit nie baie gewig in ons kultuur dra nie, bedoel ek dit as my primêre identiteit.

Ek is 27 en ek is ‘n ma en ek is onlangs ook van status verander, ek is nou ‘n weduwee.

Ek het die voorreg gehad om ‘n huwelik te kon hê van 2-jaar en 2-maande wat baie mense in 50-jaar saam nie eers ervaar nie. Elke deel van my wese was geliefd, ‘n ervaring wat ek nie geweet het in die vlees moontlik is nie. My man se lewe was ‘n definisie van passie- intens, volkleur en verterend. Daai passie het oorgespoel in ons liefdeslewe, sy vaderskap, sy gevoel van roeping, sy lewensuitkyk en bowenal in die manier hoe hy sy geloofslewe uitgeleef het.


Daar is ervaringe waarvoor ek die Here ewig dankbaar is, ervaringe saam met Leendert wat my lewe verander het. Ek het vir die eerste keer besef I am enough and I am worthy of pursuit. Ek is herinner aan ‘n gesprek met ‘n vriendin toe ons pasgetroudes was toe sy gevra het hoe dit is om getroud te wees.

Ek het gesê; “Jy besef jy is toe nie so oulik as wat jy gedink het jy is nie. Maar jy besef ook jy is nie so bad as wat jy gedink het nie, jy besef maar net you are all of the above en iemand bly by jou en het jou lief.”

En dis hoe ek gevoel het saam Leendert, I was loved well! En nou is dit seer, maar ek is nou dankbaar vir die ander ervaringe van die Here se goedheid, Sy beskerming, Sy voorsiening en Sy teenwoordigheid wanneer die lewe taaiklappe uitdeel.


En nou… Nou bevind ek myself in ‘n mynveld van stigmas. Stigmas is mos maar verweef met shame en ek glo daai shame is aan die kruis vasgehamer. Ek sit met die status van weduwee, dis ‘n stigma en die manier hoe dit gebeur het selfs nog groter. Ek het my man afgestaan aan die dood, op ‘n manier wat die post mortem verslag klassifiseer as “Suicide, consistent with hanging”. En tog sê dit nie veel nie. Mense pleeg selfmoord oor so baie redes. En tog lees mense so baie daar in- hulle lees hulle eie vooroordeel en aannames daarin raak. Dit raak vir hulle die sinopsis van ‘n lewe wat hulle nie noodwendig geken het nie.


Ek het ook al besef vir die verbyganger op die markplein is ek nie ‘n gesprek rondom die onderwerp van my man se dood verskuldig nie, maar wanneer ek nou móét antwoord is hierdie gewoonlik die onemosionele opsomming van die gesprek. “Waar is jou man?” “My man is so paar maande terug oorlede.” “[Insert message of condolence…] Wat het gebeur?” “My man was siek vir ‘n lang ruk en toe het hy selfmoord gepleeg.”

En dis hoe ek die waarheid op ‘n menslike manier vertel. Leendert was siek en ek het dit nie besef nie. Ek het dit donners nie besef nie. Ek het geweet hy is diep, maar ek het nie geweet waars die bodem nie.


Ek

het nie

besef

nie…


Ek het als in my vermoë gedoen om hom te help in sy donker emosionele tyd, ek het die rol van versorger ingeneem, die rol van cheerleader en die planmaker. Maar dit is ‘n uitputtende ervaring om ‘n huisbrand met ‘n wasbakkraan te probeer blus- jy’t die brandweer nodig, ‘n span spesialiste. En wel, eerstens moet jy weet watter tipe brand dit is. Jy kan daai wasbakkraan so groot oopdraai soos jy wil en die vuur kan reg langs die wasbak wees, maar as dit ‘n elektriese brand is, is jou edele poging eerder tot voordeel van die brand se verspreiding.


As ek terugkyk dan besef ek so baie dinge, ek besef dat hy fisiek ook siek geword het, vir weke kon hy nie slaap in die aand nie, om elke oggend uitgeput wakker te word sal selfs die bogemiddelde mense troef in die afwesigheid van enige geestesgesondheid-uitdaging. En dan kan ek die lysie van bydraende faktore uitbrei onder die hoofopskrifte van

*Psigiese welstandsfaktore

*Menslike verhoudings

*Werksfaktore

*Geestelike dimensie

*Fisiologies

*Eksistensieel

*Omstandighede

*Aanpassings

*Kindertrauma

*Druk

en ‘n paar ander wat die lysie verder kan uitbrei. Ek het seriously begrip vir Leendert, maar flippit, dis ‘n gut punch om die collateral damage te wees.


Die toneel wat my begroet het op die oggend van 27 Februarie is nogsteeds in my geheue ingebrand. Elke sekonde…

Ek het wakker geword en Leendert was nie in die huis nie, ek was rasend. Heelwat later het my oog die buitegeboutjie se oop deur in die son gevang.

Ek was verlig en vies… “Seriously, om te werk op die Sabbat!”

Ek kon nie my oë glo nie, ek het nie.

“Bliksem! Bliksem! Bliksem!!!!”

My wêreldjie het versplinter.

Ek het terug huis toe gehardloop.

“Clarina, jy kan nie weghardloop nie, dalk het hy net seergekry- jy moet hom gaan help!” Ek het nie my oë geglo nie, wens ek steeds dat hulle gelieg het!


Met die tweede keer om die draai in die aangesig van die ondenkbare, het ‘n paar gedagtes in sement gaan set. Die atmosfeer van die lig was tasbaar demonies. Asof die duiwel in my gesig lag asof hy punte aangeteken het. Dit het my met ‘n holy anger gelaat. Nou nog!

“Duiwel, die Here het oorwin, you are defeated! En wat vandag hier gebeur het- there is only one suspect, maar ek weet dat ek weet dat ek weet dat die Here hierdie tragedie sal omdraai vir Sy Glorie, and that will remind me continually you were defeated on the cross!”


Romeine 8:28 het op daardie oomblik my onwrikbare Noordwyser geword, nie net ‘n trooswoord op ‘n yskasmagneet nie. “Leendert, jy het vanoggend in jou donkerste uur nie besef hoe geliefd jy is nie.” Die prentjie wat in my geestesoog afgespeel het is die toneel van die Goeie Vader toe sy seun van ‘n ver land van ‘n lewe tussen varke terugkeer na sy vaderhuis. Ek kon sien hoe die Vader hom met oop arms en onwrikbare, ongetwyfelde liefde omhels. En ek weet Leendert het dit nie waardig gevoel nie.

En wat ‘n genade dat ons voel nie ‘n aks van die Waarheid kan verander nie.


En ek moet oor daardie Fondasie-waarheid praat, dit neerskryf en dit oorvertel. Want soms is daar tye wat wat ek herinner moet word - want mens vergeet so gou!

Ek skryf omdat ek dit nodig het. My drome het versplinter, ek het ‘n deel daarvan begrawe- twee keer begrafnis gehou. Ek het in NG Moedergemeente Stellenbosch voor die Here en al die getuies trou gesweer aan Leendert, ‘deur siekte en gesondheid’. Die gedeelte ‘tot die dood ons skei’ was vir my net soos ‘n sentence filler om dit duidelik te maak, ek is getrou aan jou, deur al jou siek tye en gesonde tye totdat ons knieë nie meer wil werk nie en jy so oud is jy kan nie meer staan en piepie nie. Ek het nie voorsien dat ek weer daar in die NG Moedergemeente Stellenbosch gaan staan, weer die mikrofoon gaan vat en ‘n paar olifante uit die heup skiet en Leendert se Hemelse bruilof vier nie. Daai droom rou ek nogsteeds, al berus ek daagliks. Ek het een aand gestoei met die shame oor die stigma van mental health, meer spesifiek met die stigma van Bipolêre Depressie, en daardie aand het Heilige Gees my conict:

“Own your story.”

Dit beteken vir my dat ek my omstandighede in die oë kyk, en die omstandighede wat Leendert se realiteit was, dat ek my seer en my oseaan vol emosies ervaar en nie daarvan wegskram nie, dit beteken ook vir my dat ek weet die Here is steeds besig om my storie te skryf, dis nie klaar nie en dis my storie… Dit is nie hoe ek dit imagine het nie, dis nie die idealistiese prentjie wat ek in my kop gehad het nie, maar my hoop is it is not finished yet.


Ek skryf want ek het dit nodig.

Die smet, die sonde, die genade en die mooi- dit als, is my storie.



Recent Posts

See All

Comments


bottom of page