top of page
o-3.png
  • Writer's pictureClarina van ieperen

Rou proses | Deel 1

Hier deel ek oor my rou-reis, ongefilterd soos ek dit op elke betrokke dag ervaar het.

Dis morsig, ek is sondig, daar's genade, dis genoeg...


Disclaimer: This is my own journey, overshadowed by grace. There may be similarities with your journey, there may be none, but I pray that you will see that His Grace is sufficient for you to live your journey without comparison.


23 Februarie 2022 | Joernaal inskrywing


Liefste Smirna.

Ek kyk vir jou waar jy by my voete sit.

Ek wonder wat die toekoms inhou vir jou en vir my... Maar, nou is jy net opgewonde as jy dit kan regkry om jou paddaboekie se bladsy oor te vou en die naaldekoker kan sien.

Wanneer jy opgewonde raak swaai jy jou arms en as jy konsentreer steek jy jou tongetjie tussen jou tande deur. Soms raak jy ongeduldig en skop vorentoe of jy maak jou ogies toe en ril vir iets wat vreemd voel. Jy kruip blasies op jou groottone en jou kniegies raak dikvellig. As jy lekker musiek hoor dans jy saam, of soos Sondagaand- jy tel jou handjies in die lug op. Jy verkies jonger geselskap en skort jou geselskap op vir ou tannies met sterk parfuum. Jy het al ’n maatjie met ’n teddie oor die kop geklits en heel onskuldig gesit en slagoffer speel toe hy die guns terugbewys- pappa kon nie sy lag inhou nie!


24 Februarie 2022 | Joernaal inskrywing- lyrics that just gets me

Hou my vas as die winter skielik kom.


Ek glo nog in jou, waar jy vergeet en vergewe sal ek onthou.

Ek hoop nog op jou, waar jy verdwaal in jou verlede kom ek jou intou.


Stuur jou pelgrimwortels so diep as wat jy wil, want jy’s welkom hier…

Tyd versteen in ritmes as ek hoor hoe jy asemhaal.

Jy sien patrone in my sterre en tussendeur my dorings wil jy my nog hê.


25 Februarie | WhatsApp

Ek: “Boeta. Bid regtig asseblief vir ons. Die situasie is dire straits”

26 Februarie. WhatsApp

Boeta: “Sus, ek bid vir julle ernstig! Kan ek bel?”


27 Februarie (die dag) | WhatsApp

Boeta: “Sus, ek wil bel. Maar ek kannie. Ek is lief vir jou. Ek is lief vir Lennie. Ek is lief vir Smirna.”



2 Maart 2022 | Begrafnisbriefie Jacobsdal

Ons neem tydelik afskeid van Leendert van Ieperen, 'n uitverkorene volgens God se wil. Hierdie besluit neem God sonder inagneming van enige hoedanigheid van ons as sondaars. Die uitverkiesende besluit van God Drie-enig is in Leendert se lewe laat realiseer op Sy tyd, deur wedergeboorte en geloof. Al sondig ons, kan dit niks vermag teen God se liefde nie. As gelowiges gee ons alle eer aan God dat Hy die Godsvrug in Leendert se lewe sigbaar gemaak het. Ons berus in Psalm 139:16: Al my lewensdae was in U boek opgeskrywe nog voordat ek gebore is. Hoe wonderlik is U gedagtes vir my, O God.


11 Maart 2022 | Begrafnis Stellenbosch

Ons almal sit met ons lysie van “moes”, “hoekoms” en “wat as”. Geen mens kan daai vir jou beantwoord nie, maar ons kan vertroosting vind in God ons Vader- en ons kan leer!

Ons word vandag uitgenooi om met ons vrae na die kruis van Jesus Christus te kom en te berus in ons imperfection as ouers, eggenote, as vriende en kinders. En ons kan berus in God se ewige liefde wat die enigste liefde is, wat perfek is.

2 Corinthians 4:7 - 18

Ons is jars of clay- ons almal.


Ons was dalk net vir 2 jaar en 2 maande getroud, maar die diepte en die liefde wat daar tussen ons was, het sommige huwelike van 20 jaar nie gehad nie.

He loved me beautifully.

Hy is define deur sy lewe, nie deur sy dood nie.


13 Maart

Leendert is dood. Altwee gedenkdienste is agter die rug. Ek is uitgeput.


Als is net so vinnig, dalk is ek in survival mode, ek gaan net deur die motions.


16 Maart | WhatsApp aan die prayer group

Ek wil uit my hart uit dankie sê vir 'n amazing community! Dankie vir almal wat kos en groceries aangedra het. Dankie vir elke boodskap en elke gebed! Ek leef in die sagte omvouing van duisende gelowiges se gebede. Dankie vir elkeen wat gehelp het met die gedenkdiens in Jacobsdal en dankie vir elkeen wat dit finansieel moontlik gemaak het vir die kosbare geleentheid in Stellenbosch om Leendert se lewe op 'n gepaste wyse te vier! Dankie vir elkeen wat Jesus se hande en voete is in 'n tyd wat die Here deur ander mense voorsien in areas wat ek 'te laat' besef ek het 'n behoefte, en dan is dit al na omgesien. -Hoe kosbaar!


Ek is dankbaar vir my twee families! Dankie vir elke opoffering wat julle gemaak het en steeds maak en nog gaan maak om my en Smirna te ondersteun! Dankie dat julle Leendert lief het!


Ek is dankbaar dat ek nou kan rustig word en kan onthou, kan treur, steeds kan droom, kan wrestle with the Lord en kan rus.


17 Maart

Ek het die craziest droom gehad oor die gebrande boom, poue wat ontkiem en die Engel in ‘n oorlog… Die engel het vir my gesê “You are now an archer.”


21 Maart
Facebook update:

Drie weke het verbygegaan… Dit voel asof ek ’n leeftyd ouer geword het, ek leef steeds in die sagte omvouing van duisende gebede, ek voel steeds die Here se eindelose genade. En dit voel steeds of ek dit nie regtig wil post nie, want watter woorde kan Leendert se lewe, sy passie, sy liefde, sy vriendskap, sy wéés waarlik vasvang?

Leendert, ek wil jou verewig in die verganklikheid van ons stoflike bestaan. Ek wil vir die wêreld uitbasuin wie jy was, dat jou nalatenskap die sinne, paragrawe en hoofstukke in die boek was en nie net die laaste punt aan die einde nie. Waarlik, ek het jou lief gehad Leendert van Ieperen. Ek sou jou weer en weer en weer kies. Jy het my trots gemaak- jy was met die minste getrou asof dit jou eie is. Wat ‘n voorreg om deur jou lief gehê te kon word. Mag Smirna in die belofte van jou woorde leef, soos jy oor haar gesê het van dag 1 af. “You are fearfully and wonderfully made, die Here het jou so mooi gemaak! Jy is die Here se kind voordat jy mamma en pappa se kind is en ons is so so lief vir jou.”


My lief, ek gun jou die ewigheid in die glorie van ons Vader se aangesig. We are but sojourners, this is not our home.



Joernaal:

Vandag is S&D se huweliksherdenking. Drie jaar. My WhatsApp status vanaand…

Ek was daai dag hartseer dat jy voortydig moes gaan by die troue- jy was oppad om te vertrek op julle mission Burundi toe. Die vliegtuig sou nie kon wag nie… na 3 jaar voel ek steeds julle kon maar ’n ander vlug bespreek het!

My hart wil sê, jy het donners voortydig gegaan! Jy kon in hemelsnaam maar ’n ander vlug bespreek het. Maar dan berus ek steeds. The Lord gives and the Lord takes and blessed be the name of the Lord.


Ek onthou die briefies, die blomme, die roomys-eet, die sushi-aand. Die Kaap-vakansie. Ek sou dalk nie weer nie, maar ek is nie spyt oor die splashiness van daai kosbare tyd nie. By Babylonstoren, by Villiersdorp, Kleinmond.

Ai Leendert.



23 Maart

Rou is nie net huil nie. Ek voel dit fisies, dis 'n steekpyn in my borskas.

Dis so seer.


Iets het in my begin brand, iets wat 'n realiteit geword het wat voorheen meer 'n kop-verstaan was... die Ewigheid is vir my so 'n groot werklikheid, hierdie lewe is regtig net die deurgang tot iets bo ons verstaan beter en mooi. Ek sit heeltyd met daai tweesplitsing in my. Ek wil hom nie terugbring nie, dis die mees selfsugtige gedagte, want hy wil wees waar hy nou is! Sy ewige hoop IS nou sy realiteit. En hy is nou vry van sy lyding. En terselfdertyd is ek hartseer…

Hierdie rou is nie net trane nie, dis die stil wees wanneer die trane opgedroog het, dis die lag oor sy vals-sing vir Smirna, dis die irrasionele kwaad-wees teenoor almal behalwe hom en die Here, dis die ongefilterde oomblikke van vloekwoorde in die Here se teenwoordigheid, dis die berusting in die Here se ALTYD GOED-wese, die berusting in my kortsigtigheid, die mis dat ek nie Smirna se mylpale met hom kan deel nie, dat ek nog myself vang dat ek oomblikke wil onthou om met hom te deel na werk. Dis die angstige oomblikke oor die onbekendheid - ek moet familieverhoudinge nou alleen navigeer, dis die mis van my covering in gebed- my sambreel. Dis oorgee-oomblikke en die diep weet, my wonder is legit maar ek kies om vrede te hê dat ek nie als gaan verstaan en hoef te verstaan nie.

Dis ook dankbaarheid oor die goue randjies van die wolk, die klein genades in die storie. Die dankbaarheid vir 'n lewenspad wat ek al geloop het wat by tye baie uitdagend was en insidente wat my diep geraak het- veral die traumatiese goed, my hoërskooljare, my boetie se ongeluk, my ouma se dood, my en Leendert se uitdagende tyd pre-troue etc. Die Here het so 'n fondasie kom vaslê in my om na Hom te draai, keer op keer - en hoe bevoorreg is ek om myself aan SY getrouheid, voorsiening en Sy liefde te herinner. Ek het al te veel die Here se goedheid geproe het om dit nou te kan betwyfel. Ek is ook dankbaar om te weet, in die Here is daar ook vryheid om met my minder mooi 'n tantrum te gooi en dit gaan Hom nie onkant vang of van Sy troon laat afval nie.


En ek berus dat die Here dit toegelaat het, in Sy Almag het Hy dit toegelaat, dit kom nie uit sy hand nie, maar Hy het dit toegelaat en Hy is GOED. En ek hoef nie dit te verstaan nie. Die Here het op universiteit in my vriendin se poging ingegryp, ek het in haar kamer ingeloop, ons kon haar hospitaal toe vat. Die Here het ingegryp, Hy kan! En dit was nie nou só nie, and blessed be the name of the Lord anyway. Meer nog- die wete dat die Ewigheid in SY aangesig selfs die donkerste tye hier nie eens soos 'n oomblik in tyd laat lyk nie, it just cannot compare!


En ek het nog meer respek vir my man dat hy deur sy siekwees en donkerste diepste wroegings met die Here, so waardig geleef het en vir my en Smirna steeds eerste gesit het.


Ek en Leendert is dromers, idealiste, passievolle kunstenaars, emosioneel intens. Ek het soveel begrip vir hom, maar ek wil hom net sê dis 'n kak idee, jy gaan uitmis op redemption.


Dis nou 'n unfortunate voorreg wat ek het om aanspraak te maak op die spesiale beloftes en seëninge in die Bybel wat spesifiek vir die weduwees en vaderloses is. Die Here dink aan my, meer as dit, Hy is so naby.


25 Maart

Ek rou ook my toekoms, oor wat ek kon gehad het. Oor wat ek wel gehad het vir my en vir Smirna. Ek rou my outonomie, dat ek ’n covering gehad het waar ek in unity was, dat ons ’n visie gehad het oor hoe ons Smirna wil groot maak en vir ons huwelik.

En nou is dit die groot uitdaging in my hart, die feit dat ek terug is by die huis, maar nie terug is in die huis as ’n kind nie - daai dinamika. Ek is baie bewus van my wounds dat ek neig om my rug styf te trek wanneer ek voel daar word vir my voorgeskryf. Ek weet ek moet in afhanklikheid van die Here bly om insig te kry oor hoe om vir Smirna groot te maak; oor my pad vorentoe as Clarina en my pad vorentoe as Smira se ma. En ek is nie lus om langtermyn by my ouers in Barkly te bly nie. Seriously.


Ek is bewus van my huidige interne toestand, dat dit nie wys is om major besluite te neem nie. Ek is bewus van my kortsigtigheid ook, maar ek weet ook my outonomie is vir my belangrik.


1 April

Things I’ve learnt from travelling. Daar is goed wat nie meer luxuries is as jy travel nie, dis nou noodsaaklikhede. Moenie die babadoeke in die kar vergeet nie! Vat die nagliggie saam, belê in ’n diffuser en olie, onthou jou mediese kissie! Die Doona is nou ‘n necessity- elke sent werd!


Die realiteit dat ek nie meer ‘n companion het nie tref my op verskillende maniere soos die tyd verloop. Hierdie week was dit weereens die aande. Deur die dag is daar goed wat my byval en ek wil dit verbal process… maar daars niemand nie. Ek wens daai skouers was weer voor my en langs my, dat ek hom kan voel, maar ek weet U skenk genade wat genoeg is vir elke dag. Ek weet U het vir my ’n pasmaat, op U tyd.


4 April

Ek het gegroei in my verstaan hoe om ander mense beter te kan ondersteun… Wanneer mens jou hulp aanbied, wees spesifiek oor wat jou kapasiteit is- waarmee jy wil, of kan help- dit gee die ander persoon meer vrymoedigheid om dan werklik vir hulp te vra, want mens weet wat is die boundaries.


Dit raak nou ’n leefstyl van surrender - om net op vandag te fokus en om nie oor die volgende drie dae uit te freak of te worry nie- dit is nie maklik nie.


En die ander ding- ek verpes dit as mense aannames maak oor hoe ek voel. As iemand vir my sê ‘Sjoe, dit is seker nou ’n baie donker tyd vir jou.’ Brah, you don’t know about the road that lies behind us- that was desert! Opmerkings soos dit sit ’n benchmark op jou emosies, want nou moet jy apparently voel soos ander mense dink jy moet voel. En dan is ’n mens sommer (insert emotion) omdat jy dink dis wat van jou verwag word om te voel. Sommige dae is normaal, die son skyn en ek is soortvan gelukkig. Ander tye vang die mis my erg. Ander tye voel ek niks. Ander tye is ek kwaad. Ek het vrymoedigheid het om te voel wat ek voel, ek voel nie dat ek ‘probeer’ sterk wees vir ander mense nie. En ek dink nie almal verstaan hoekom ek voel soos ek voel nie, en dis ook oraait.


Dit is nie asof dit maklik was toe hy geleef het en nou is dit moeilik nie. Dis ook nie dat dit moeilik was toe hy geleef het en nou is dit makllik nie. Dit was moeilik toe hy geleef het en dit is nou moeilik, dit is obviously verskillende grade van moeilik en natuurlik sou ek verkies om moeilik saam met hom te doen. But it is what it is.


Ek glo regtig Johannes 12:24. Die saad moet eers sterf voordat die oes inkom. En ek glo met my hele hart dat die Here iets besig is om te doen! Daar is ’n nalatenskap besig om te vorm.

Die woorde oor die saad is net te veel om te ignoreer.

Ek is herinner aan die visie wat ek gesien het daardie middag na sy dood - die duif met ’n olyftakkie in sy bek. Dit het vir my so kragtig aangesluit by die profetiese tekening wat ek gemaak het van die reënboog en die oor, daardie dag toe hy my begin pursue het en by die boodskap op ons troue van die beloftes vir Noag en nou - die duif wat terugkom. Dit spreek iets van “I am home”, van ‘n tuiskoms.

Ek is herinner aan die prent wat R geteken het van die saad wat ontkiem. Die woord wat P vir my gestuur het oor die leë grassaad. Die droom wat ek gehad het oor die verbrande boom met die mooiste saadpeule wat oop is en die poue wat ontkiem uit die grond. (Dis nogals cool om oor Pyrophytic plante te lees wat vuur nodig om die sade vry te stel en dat poue in die antieke Christendom die Ewige lewe voorgestel het.)


Leendert het ’n humility gekry aan die einde waar hy bely het, sonder U kan ek NIKS doen nie! En sy nalatenskap getuig van U, dat dit nie deur sy eie hande gecraft is nie, maar in afhanklikheid en oorgee aan U.


5 April

Ek herhaal jou sonder begin of einde…

Al gaan ek blind sal ek jou nie kan vergeet nie, jou kontoere is geëets in braille op my vingerpunte. As ek my oë toemaak kan ek my nog verbeel hoe ek aan jou nek vat as ons langpad ry. Ek kan onthou hoe jou blondekop onder my vingers voel, hoe die hoeke van jou gesig loop en waar jou stoppels begin skuur, jou perfekte lippe en die kuiltjie wat vorm as jy ernstig praat. Jou rug is steeds my gedekte tafel- so wyd en verspreid, daar waar ek veilig voel met ’n feesmaal selfs in die midde van vyande.


Bliksem, ek mis jou langs my vanaand. Ek mis jou luister, ek mis jou. Ons het nie veel gehad om te doen daar waar ons was nie, maar ons kon aande om gesels. Ek mis Smirna se pa, ek mis my co-parent. Dit voel steeds nie werklik nie. Om elke keer dit oor my lippe te laat gaan… Ek is ’n weduwee. Ek verkwalik jou nie, ek mis jou net.


I dare not ask WHY. Want al het ek ’n antwoord, dis nie wat ek soek nie. Die feit is ek mis jou. Leendert ek flippen mis jou. En ek treur jou afwesigheid. En dis seer, dis fisies seer in my borskas.


En tog, as ek tyd kon terugdraai wat sou ek doen? Ek sou weer jou trane afvee en probeer om sin in jou kop te praat- hierdie is net ‘n seisoen! Ek sou steeds nie voortlugtig saam jou wees nie. Ek sou steeds die rede en sin probeer wees en ek sou weereens die realis wees, maar die keer vir jou beswil. Ek sou nie naïef wees nie- dis wat ek hoop.


17 April

Hierdie herinneringe oor daai naweek in Februarie haunt my…


Daai Vrydagaand het ek gedink, “Wat as Leendert my los?” En ek het geweet dis nie ’n geskikte onderwerp vir bespreking nie, want ek weet ek het één keer en een keer te veel daardie onderwerp opgebring in my lewe. Dit was daai tyd toe ek nog hectic baby blues gehad het en ek so bietjie crazy was en op hom uitgefreak het oor iets stupids. Hy het toe gesê: “Ek gaan nou loop, ek gaan jou los dat jy kan afkoel!” en ek het soos irrasioneel uitgefreak en gevra: “Gaan jy my skei Leendert?”

“Clarina, wat het jy nou net gesê!”

Dit het gelyk asof ek ’n dolk deur sy hart gedruk het - sy totale ontnugtering dat ek eers waag om so iets te dink en daai woorde oor my lippe te bring!


Die herinnering van daai beeld toe ek om die draai kom buite en net die woorde “Bliksem, bliksem! NEE, Nee, nee!” skree… Die gedagtes wat daar deur my kop flits teen gedagtes per millisekonde…


Dis ingebrand.


18 April

Ek en Smirna vertrek more op ons reis Durban toe. Liefste M het vir ons 3 dames ‘n wegbreek beplan op die MSC. Dit voel ridiculous aan die een kant, ek rou, daars oorlog in Oekraïne en Durban het halfpad weggespoel en ek gaan op ‘n skip sit en myself hedonisties hou. Die afgelope paar weke het ek regtig nodig gehad om na iets uit te kan sien, net iets om die mundane van die daaglikse grou te kan breek. Ek sien so baie uit, maar ek is ook mal nervous. Ek gaan alleen met Smirna travel, ek gaan ‘n maand op my eie wees. Ek gaan op die oop see wees, en dit is scary. Ek gaan al ons vriende en ou plekke sien en ek gaan die familie sien.

Ek weet ek moet die angel uit die Kaap gaan haal.



(Rou Proses | Deel 2, volg hierna)

Recent Posts

See All

Kommentit


bottom of page