top of page
o-3.png
  • Writer's pictureClarina van ieperen

Rou Proses | Deel 3

13 November 2022

Dit voel of ek alweer tien pond lood ingesluk het, dis swaar in my ribbekas. Dit het lanklaas so gevoel.

Ek het gisteraand van jou gedroom, die eerste keer sedert, ek dink Junie…

Die siklus van eb en vloed het alweer my emosies verspoel.

Ek was bang dat dit weer gebeur, en ek was bang dat dit nooit weer gebeur nie

-ek mis jou vandag…

Ek weet nie meer watter Leendert dit is wat ek mis nie, jy neem deesdae die vorm van baie skimme aan- die een in my drome wanneer ek slaap, die fragile een voor die dood kom kennis maak het, van my hero-man, of my passionate lover- ek weet nie meer watter ene jy is nie.

Als raak verweef met mekaar en my herinneringe van ons glipdrup soos water tussen my bakhande deur.

Ek het die naweek ‘n kinderfoto van jou vir die eerste keer gesien- ek het Smirna se oë herken… In die droom gisteraand het jy vir Smirna ‘n pop gegee, of dis wat ek dink. Ek onthou ek het jou binne my gevoel.


Ek is nie geïntimideer deur my emosies nie, ek weet dis net soos ‘n foto van die wolke, emosies verander soos die wind waai en tyd tik-tik. Die son skyn fel, dan raak dit skemer en als is in spookasemkleure geverf, dit raak nagdonker en die son kom weer op ook. Vandag voel ek so, more is weer anders.

Snapshots make me feel vulnerable, I transpose a fluid emotion with solid letters.

[Februarie-wolkkyk saam met jou... En ons laaste sonsak saam...]


Jou dood het my verander.

Nuwe breinpaadjies is gevorm en ander is versterk…

Daar’s doringbome wat vrug dra in ‘n angstigheid om kamers se toe deure oop te maak. Daar’s Kintsugi-kuns van die Here se genade in my lewe. Daar’s kole op my vuur, daar is ‘n vasberade dankbaarheid en ‘n ontnugtering van my blywende naïwiteit…


Ek besef ek is bang. Ek is bang om kanse te waag, bang om uit ‘n comfort zone te beweeg van bekendheid. En terselfdertyd is ek meer bang om vasgevang te raak in die hier-en-nou sonder ‘n groot prentjie-visie.

Ek maak ook kennis met my sondigheid, met die vrot vrugte van wortels wat nie altyd Lewende Water opslurp nie. Mens kan redeneer dis verstaanbaar, maar rou kan nooit ‘n verskoning wees om te sondig nie.

My woorde is soms soos dorings, Leendert. Ek onthou dis iets wat jy net eenkeer opgebring het. Jy het gesê jy gaan nie weer hieroor praat nie, jy wil my nie voorsê nie, maar ek moet net weet hoe jy voel oor onkruid in my taaltuintjie- it is not fitting.


Ek wonder hoe jy en Smirna mekaar nou sou geniet… Sy is laf, sy is expressive soos ons albei op ‘n passionate day. Sy gebruik haar gesig soos ek, sy’s dramaties en sy hou van ‘n episode heupswaai. Jy kan haar in ‘n wip vang met baby marshmallows en sy hardloop weg en soek haar ouma as sy die snollie-sucker sien- sy haat dit nou nog meer! Sy slaap steeds soos ‘n buideldiertjie en ek voel nog soos ‘n melkkoei. Sy kan al ouma en oupa sê, sy kan vir Yster roep en sy het ook al leer ‘pappa’ sê. Dis soms bietjie awkward, want wat moet ek nou daaromtrent doen? Reageer ek, dan dink sy ek is pappa. Ignoreer ek dit net? Dit steek so bietjie seer hoor. Ek is dankbaar dat sy nog nie vrae kan vra nie- dis genade dat ek eers my proses kan deurgaan en my eendjies in ‘n ry kry voordat ek haar aan die eendjies moet voorstel. Maar ek glo- genade is genoeg daarvoor ook.

Ek wonder wat was van jou laaste wense vir my en Smirna? Ek wonder wat het deur jou kop gegaan toe ek vroeg daai Sondagoggend my oë oopmaak en jy staan langs ons bed en kyk vir my en Smirna?

Ek wonder terug én ek hoop vorentoe.

More sal die tien pond lood dalk sublimeer, of nog nie.

En dis ook oraait.


14 November 2022

Lyding pers die lewe tot spasmas van purper



Recent Posts

See All

Comentarios


bottom of page