top of page
o-3.png
  • Writer's pictureClarina van ieperen

Varswaterbesluite: Deel I

Wanneer mens vir jouself in die spieël kyk, is dit jouself wie jy moet face. Niemand anders se aanmoediging of iemand anders se ‘oortuiging’ staan saam jou daar nie. Net jy. ‘n Paar jaar van nou af, moet die ‘jy’ in die spieël tevrede wees met die trajek van besluite wat jy gemaak het, en nié gemaak het nie.


Die stapgeselskap

Toe ek 12-jaar oud was, het ek saam my ouers die Visrivier Canyon gaan stap. Dit was hulle soveelste keer en my pa was die stapleier. Op Dag 2 is daar ‘n warmwater swaelbron, en in ‘n droë jaar, soos daardie jaar, is al die water daarna brak, soos vrot eier. Na net een aand was ek alreeds gatvol vir hierdie reuk wat nie eens met aanmaakkoeldrank verdoesel kan word nie. Een middag het my pa vertel dat daar ’n varswaterbron is waar ons die aand kan uitkamp- en het ek uitgesien daarna! Teen laatmiddag het ons by die res opgevang toe van die stappers alreeds begin uitspan het. Ek was so opgewonde om na ‘n paar dae uiteindelik vars water te kon proe! Ek het vol verwagting my beker gevat en gaan water skep, maar nog voordat ek kon proe, het daai swaelreuk my al tussen die oë getref… dis nogsteeds dieselfde brak water! Hierdie is nie die plek wat my pa van gepraat het nie!


Ek sê dit toe ook vir my pa. 


Ek, my pa en my oranje stapcrocks.

Hy was in ‘n baie moeilike posisie, die voorlopers in die groep het net aangeneem die volgende watergat, is ‘daai Watergat’. 

Die hardkoppigheid in my het opgestaan. 

“Pappa, ek slaap nie vanaand hier nie. Ek gaan by daai vars water slaap waarvan pappa vertel het.”

My pa was uit die veld geslaan en het in ongeloof gelag.

My ma was rasend, sy’t geweet ek is ernstig. 


Daar stap die 12-jarige met ‘n halwe Energade bottel vol water die woestyn in.

Alleen.


Ma het darem ‘n hoërskoolseun agterna gestuur om my te probeer inhaal om net seker te maak ek is veilig. Hy het my eers ingehaal toe ek alreeds my slaapsak op die oewer van die blouste dam denkbaar uitgegooi het.

Die res van die geselskap het ook later kom aansluit en my ma onthou dat dit ‘n besonderse aand was met ‘n groot trop koedoes wat daar naby ons kom water suip het.


As ek nou terugkyk, kan ek amper nie glo dat ek dit gedoen het nie. Die feit dat ek nie aan die gevare gedink het nie, ek was net single-mindedly gefokus op daardie vars water wat ek moét kry.

Iemand vra my toe, “Hoekom het jy dit gedoen? Wat was jou pay-off vir daardie risiko?”

Sonder om te dink, verbaas ek myself met die woorde:


“Ek gaan nie settle vir second best nie!” My pa het gesê ons drink daai aand vars water, hoekom moet ek weer by brakwater slaap net omdat ander mense hulle matrasse daar uitgegooi het?


My ma vra my nou die dag of ek besef dat ek daardie dag nie eers verder as 5km geloop het nie. Dit was letterlik net om die draai van waar almal oorspronklik uitgekamp het.


Ek het (in Maart) weer besluit om die onbekende in te voeter na daai beloofde Varswater toe. 


“Ek het met my kêrel opgebreek en het my werk bedank”


Dit klink meer dramaties as wat dit was. Die break-up was nie morsig nie, dit was ‘n beautiful kans wat ons albei gewaag het en ons albei het gegroei.

Soos hy daardie aand gesê het: “Clarina wat is nou die uiteinde van die gesprek?” 

“Wat hoor jy?”

“Dat dit ‘n wonderlike leergeleentheid was, maar dis nou verby.”


En daai leergeleentheid was mooi, dit het my ‘n ongelooflike skeut moed gegee om te waag en te lééf!  En dit was ook moeilik, want hy is amazing. Ek wéét net ons is nie mekaar se huweliksmaats nie. En my werk het darem ‘n drie-maande kennisperiode gehad met die vryheid om op enige tydstip my bedanking terug te trek. 


Maar ek doen nie terugdraai nie, dis nooit ‘n goeie idee nie, maar koersvas vorentoe is ook nie juis glamerous nie. Dis aande van veg om die deur toe te hou dat leuens nie kom nes maak nie. Dit raak ook uitputtend om jouself te moet verduidelik.


Maar daardie Vrede kan nie fabriseer word nie.

Ek het vrede met die ‘ek’ in die spieël: ek het gewaag. 

Ek sal aanhou waag. 

Ek onthou die proe van ‘n beker vars water en die tevredenheid van ‘n berekende risiko, maar intussen bid ek:

“Here, U weet hoe ver my halwe botteltjie water my kan bring. Asseblief laat dit om die draai wees”


Recent Posts

See All

Comments


bottom of page